NEWS

KAAPSTAD - Rybewys gou hernu met nuwe toestel.
Vania van der Heever - die Burger
Die dae dat motoriste in lang toue moet staan om hul rybewyse te hernu, sal binnekort iets van die verlede wees. Danksy 'n nuwe toestel kan dit binne 'n japtrap afgehandel word.

Die Kaapstadse verkeersdepartement toets tans die Live Capturing Unit (LCU) by verkeerskantore. Die toestel gee motoriste die geleentheid om hul aansoeke binne vyf tot sewe minute af te handel.

In KwaZulu-Natal en Tshwane word die LCU-toestel reeds gebruik. Dit is tans op 'n toetsbasis by die Kaapstadse verkeers-departemente.

Motoriste hoef dan nie meer na 'n polisiekantoor te gaan om vingerafdrukke te laat neem nie, omdat die toestel self die afdrukke neem. Motoriste kan ook hul oë met die toestel toets, hul foto's neem en dokumente op die toestel onderteken.

Me. Merle Lourens, woordvoerder van die Kaapstadse verkeersafdeling, het gesê die
 

 

 


LCU-toestel word hoofsaaklik vir die hernuwing van rybewyse gebruik.

"Nadat al die besonderhede in die toestel gedruk is, sal dit 'n dokument met al die aansoeker se besonderhede, 'n foto, asook van die vingerafdrukke uitdruk. Danksy die toestel sal motoriste nie meer in 'n lang tou hoef te staan nie," het sy gesê.

Lourens het die versekering gegee dat geen werknemers van die verkeersdepartemente hul werk weens die nuwe toestel sal verloor nie.

Motoriste moet egter steeds drie tot vier maande wag voordat hulle 'n nuwe rybewys kan ontvang.

Volgens Lourens kan bestuurders van enige voertuig die toestel gebruik.

"Die LCU bespaar nie net tyd vir die motoris nie, maar ook vir ons. Die dokumente wat deur die toestel uitgedruik word, is reeds nagegaan vir foute."
 
 
 
Verkeersdepartemente in Kaapstad toets die Live Capturing Unit (LCU) om die hernuwing van rybewyse te vergemaklik. Me. Joy Downie van Lakeside het gister haar aansoek by die Ottery-verkeersdepartement afgelê. Mnr. Grant Pekeur (links) het Downie met die aansoek gehelp.
Foto: STEPHEN WILLIAMS
 
 
 
     
© Copyright Afiswitch 2024. All rights reserved
Tel: 0861 Afiswitch / 0861 234 7948